Saturday, February 7, 2009

Begrafnis Saterdag 7/02/09

Wat 'n pragtige, helder sonskyndag was dit nie! Ek het die swart pakkie wat ek gister uitgehang het weer teruggesit in die kas en 'n witte uitgehaal. Hierdie was 'n wit dag! Liefste LeRoy en Eugene is vooruit kerk toe met die blomme en om die aanbieding van my pa op te stel. Twee baie besonderse ruikers (een van my dierbare kollegas van die Universiteit van Pretoria se Departement Biblioteekdienste en die ander van my Onderstepoort kollegas - baie dankie julle!) is laat gistermiddag by my afgelewer.

Die blomme het gesorg vir die humor van die dag, en Erica en span ek moet dit net met julle deel want ek glo julle sal verstaan! Die twee massiewe ruikers is gister versigtig in die sitkamer staangemaak, maar vanoggend toe LeRoy die ruikers indra kar toe, het hy (tipies man!) iewers die pad byster geraak. Die biblioteekruiker het die kar gehaal, maar met die tweede sessie gryp LeRoy toe die oorblyfsels van al my vorige ruikers wat in 'n blompot by die kapstok gestaan het. Ek het dit nie by die diens agtergekom nie, maar toe ons terugry huistoe, het ek met stomme verbasing die petieterige petalje (wat toe by my voete staan) gadegeslaan! Ek kon nie help om te lag nie, maar ek kan ook nie anders as om hom te vergewe nie. Vir mans is blomme mos blomme - maak nie saak waar hul koppies hang nie.

Baie dankie vir elkeen van ons nabye familie, huisvriende en kollegas wat die diens bygewoon het - ons het so waardering vir julle liefde en belangstelling en ek was aangedaan om Monica, Thea, Fay, Gertrud, Melanié, Danie, die Jordaans, en Edith daar te sien - om van Kobus en Johan (orrelis) nie eers te praat nie. Kobus het die bekende gedeelte van Lasarus (Johannes 11 ) vir ons voorgehou wat hy ook so mooi vir my uitgelê het tydens hul besoek (sien Terapeutiese kuiers 30/01/09 in die Blog archive aan die regterkant). Sy boodskap: Jesus stap met ons elkeen die pad en Hy ken ons so goed...net soos wat Hy geweet het om Marta en Maria te hanteer, so weet Hy ook om my te hanteer. En Jesus het ook gehuil - en volgens Kobus was dit trane van woede, want Hy het nooit bestem dat ons moet ly nie.

Ek wil afsluit met nog 'n dankie en 'n bietjie humor. Baie dankie vir elke bemoedigende en simpatieke oproep, epos, sms of besoek en almal wat my so letterlik aan die lewe hou met etes wat met liefde voorberei of gekoop is (Woollies bo!) - Annette, Ina Louw, Monica, Melanié, Elsa en vanaand Anita met 'n hoenderpastei. LeRoy en ek maak beurte om in die aand seën te vra en gisteraand het ek gebid: "Dankie liewe Heer vir hierdie pasteitjie wat LeRoy uiteindelik vir my opgeskep het. Maar seën asseblief Elsa se hande, want dit was sy wat dit ons gebring het. Amen." LeRoy se kommentaar...: "Sal jou terugkry, Poppietjie...!"

Bybelvers van die dag: "My God sal ... in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus." Filippense 4:9.

2 comments:

  1. Een bultjie is oorgeklim en die Here was verseker al die tyd by julle. Nou kan jy met groter geloof-sekerheid die volgende een aanpak. Vrede vir julle - Ria

    ReplyDelete
  2. Liewe Elsabe,

    My en Pierre se gebede is met jou en jou familie in hierdie beproewende weke.

    Al ons liefde,
    Tina

    ReplyDelete