Monday, February 2, 2009

Goeie nuus! Maandagaand 2/02/09

Ek het goeie nuus ontvang laatmiddag! Ek het die sjirurg vanmiddag gebel (omdat ek bietjie moeg voel) en hy het die uitslae van die biopsie ontvang. Die monster (is dit nou nie 'n goeie beskrywing nie!) lyk nie kwaadaardig nie. Ek was rasend opgewonde, maar toe prik hy weer my ballon en sê dat hulle 'n groter monster sal moet toets (wat eers tydens die operasie sal kan gebeur). Sy presiese afskeidswoorde was "Sover lyk dit goed". Dankie Here vir hierdie groot stuk hoop en ek glo baie van julle sal saam my hieroor dankbaar sal wees.

My kollegas het vandag vir my hulle harte oopgemaak. Ek is oorval met oproepe, sms'e en e-posse om van die besoekers nie eers te praat nie. Daar is te veel mense om uit te sonder, maar weet net dat ek almal s'n gelees het en elke geloofsvers, hoopwens en liefdebetuiging opreg waardeer. Julle goeie wense en gebede is die hande wat my staande hou en my dra. En soos julle nou gehoor het: ons gebede spreek tot God en Hy verhoor ons! Vergewe my as ek nie persoonlik op elke epos en sms reageer nie - dis juis hoekom ek die blog begin het want die omvang van jul liefde en belangstelling is oorweldigend.

Ek sien ek het selfs 'n paar Followers (Wow...ek voel soos 'n "celebrity"!) ...alhoewel 'n paar "stalkers" my ook laat weet het dat hulle die gebeure volg en die blog lees :-)

Almal wil weet: hoe voel jy? Gun my om te vertel - ek het rede tot dankbaarheid! Ek het nou minder pyn as voor my hospitaalkaperjolle. My maag voel egter ongemaklik, is geswel en ek kan net klein bietjies op 'n slag eet. Ek voel nog swak en word baie gou moeg. Dit voel permanent of een van hierdie groot lugbore binne my vibreer en as ek baie moeg word voel dit of ek wil flou word. Ek vermoed my bloeddruk is net 'n bietjie laag.

Môre is 'n belangrike dag vir my want ek en LeRoy gaan 16:45 dr. Heyns (my sjirurg) besoek om die besonderhede van die operasie te bespreek. Ek wil baie graag tyd spandeer om self bietjie navorsing te doen en my vragies agtermekaar te kry. Ek sal dus minder beskikbaar en toeganklik wees as vandag, en verkies om nie besoekers te ontvang nie.

Ek belowe ek sal môre wel terugvoer gee van die operasie se besonderhede. Nogmaals dankie - ek kan voel hoe die kring van jul almal se liefde groter en groter om my word en my kussing vir dit wat voorlê. Lekker slaap!

2 comments:

  1. Vriendinaki! (nuwe spelwyse - slegs vir baie spesiale mense!). Ek het eers vandag gehoor ... my hart en gebede gaan uit na jou! Ons ken mekaar nog so kort, maar ek weet: vriendskap is 'n heerlike verantwoordelikheid, nooit net 'n toevallige geleentheid nie. Ek dink aan jou in Geloof, Hoop en Liefde. Martha

    ReplyDelete
  2. Hi Elsabe -
    Volgende keer skryf ek 'n brief met papier en kryt en 'n koevert en 'n seel. Dit sal makliker wees en moontlik ook vinniger. (Lei hieruit af dat weergawe een van hierdie "reply" reeds erens in die eter verlore is ...)
    Ek dink aan julle more, en ek stuur soveel hoop en ondersteuning as wat die engele sal dra.
    NS - 'n baie mooi foto van Beauty and the Beast wat Leroy geneem het!
    Met liefde

    ReplyDelete