Wednesday, February 4, 2009

My pa is sterwend... Donderdag 5/02/09

Ons gesinnetjie in die vroeë Sewentigs
Die ouetehuis het gisteroggend gebel...my pa is sterwend - ons moet kom groet. En die hemele gaan oop en verdrink ons in water.

Ek het nie fisies goed gevoel nie, maar het tog 'n dringende begeerte gehad om hom vir oulaas te sien. Hy het nie geweet dat ek siek is nie, want ek het hom nie vertel nie. Die laaste keer wat ek hom gesien het was die oggend wat ek so skielik in Intensief opgeneem is - wat nie beplan was nie!

Ons kon eers die middag ry - die verkeer 'n nagmerrie van ongeduld wat ons peristalties nader aan Vergenoeg laat beweeg.

Ek was geskok om my pa te sien. Die 26e Januarie kon ek hom nog help vorentoe beur en hy het Coke uit 'n glas met behulp van 'n strooitjie gedrink. Kon nege dae hierdie agteruitgang bewerkstellig? Sy gesigvel is skeletagtig oor sy gesig gespan, sy oë dof en glasig en sy mond oopgesper. Die teenwoordigheid van die dood was tasbaar. Verstaan goed - my pa is reeds weg!

My pa se lewensverhaal is 'n hartseer een en een wat ek seker nooit sal vertel nie. Sy lewe het afdraaipaaie geloop na plekke wat min mense ken - deels uit keuse, deels sonder keuse. My ouers is geskei toe ek 13 en my sus 7 was en my ma het haar stukkend gewerk om vir ons al drie te voorsien. Na haar dood 10 jaar gelede het ek (en LeRoy) my pa se (primêre) Versorgers geword.

Sy 74e verjaarsdag in November was 'n spesiale een! Ek het weereens 'n gedrewenheid beleef om dit besonders te maak, want ons kon sien hy gaan vreeslik agteruit. Hy het een vriendin van Harmonie-Oord oorgenooi wat trekklavier bespeel - 'n vrolikheid! Ons, my sus en goeie vriende Johann en Louette (wat ons sedert 1980 ken) het saam 'n vleisie oor die kole gegooi. Ek het hom verras met 'n skyfieprogram van elke foto van hom wat ek in my foto-albums gehad het wat ek ingeskandeer het. Ons groepie het geskree ("Hemel Oom Boetie - is dit jy daardie? Bliksem!") van die lag oor die modes, die motors en hoe ons gelyk het toe ons jonger was!

Ons het reeds begin planne maak vir die begrafnis - my grootste bekommernis nou, dat met elke dag wat hy vasklou aan die lewe, ek nie die begrafnis sal kan meemaak nie. En daarom het ek kort-kort vannag wakker geskrik en gewens die telefoon lui! Dit is onmenslik om so te ly - ek en LeRoy is geheel en al gekant teen onnodige kunsmatige intervensie.

My bede vandag is dus: liewe Heer kom haal hom nou asseblief!

Bybelvers van die dag: "Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil." Matteus 26:39.

3 comments:

  1. Ag ou Elsabe.... Ek en Eddie bid so baie vir julle. Ek bid spesifiek vandag dat die Here jou soveel krag sal gee om te alles te deurstaan. Ons ken jou nie baie lank nie, maar die tydjie wat ons jou leer ken het het ons daardie liefde ervaar wat jy van gepraat het!!! Jy skyn dit orals waar jy heen gaan. Ons sal vandag vir jou pa ook bid!!! Jy is baie spesiaal vir ons. Ek het spesifiek vanoggend gebid dat die dokter bonatuurlike wyheid sal kry die 11 Februarie en dat die Here sy hande sal stuur en dat die operasie 110% suksesvol sal wees, want jou 2 manne in jou lewe het jou nodig. Ons is baie lief vir jou!!! Jou foto's lyk pragtig!!! 'n Jonge dame soos wat ons jou ontmoet het. Baie sterkte vir jou dag. Die skrif wat op my hart is vanoggend vir jou is Jes 40:31. Jy sal vandag bonatuurlike krag ervaar. Baie liefde, Karlien

    ReplyDelete
  2. Hi Els! Was v'more sommer in trane toe ek hierdie lees. Saam met jou, vir myself en sommer net. Weet dat my gebedjies & gedagtes by jou bly.L'e Christelle

    ReplyDelete
  3. Ek is bly dat jy kans gehad het om jou pa te groet en die laaste hoofstuk in sy lewe mooi af te sluit. Wat ook al in die verlede mag gebeur het, weet ek jy het die vertroosting dat jy nooit opgehou het om vir hom 'n liewe kind te wees nie - en hy moes dit beslis ook geweet het. Ons bid meer as ooit vir krag vir julle en glo vas dat alles ten beste sal uitwerk. Monica en Piet

    ReplyDelete