Saturday, January 31, 2009

Huis toe! Donderdag 29/01/09

02:00 vanoggend het die suster na Susan Semenya se drup kom kyk en ek het wakker geword. Ek kon ongelukkig nie weer aan die slaap raak nie en die afgelope paar dae se gebeure en prof. Schalk van der Merwe se woorde van gisteraand het in my kop bly maal: "Baie bekommerd...", Slegte ligging...", "GIST...".

Aangesien hy die vorige aand genoem het dat daar twee moontlike opsies van optrede is (eers chemobehandeling om die gewas te krimp OF onmiddellike sjirurgie) het ek die tyd gebruik om die volle omvang te laat insink van wat besig is om met my te gebeur.

Feite:

  • Ek is regtig siek - baie siek;

  • Daar wag ingrypende behandeling en/of 'n operasie vir my;

  • Ek gaan vir 'n lang tyd nie kan werk nie, my Leadership Project wat nou al moes afgeskop het, sal ek nie verder kan beplan nie, en ek sal reëlings moet tref vir siekverlof...;

  • Ek sal tien teen een geen verdere ondersteuning aan my pa kan gee nie, want my kragte sal dit nie nou toelaat nie;

  • Die mense wat die naaste aan my is gaan ook hierdeur geraak word - veral my liefste LeRoy op wie ek altyd so steun.

Ek het baie vroeg gaan bad (hoe heerlik om weer so in die water te lê!) en my hare gewas. Kon vir die eerste keer ontbyt ontvang - heerlik kwadraat! Alhoewel ek rasend honger was, het ek versigtig min geëet, want ek weet nou al dat my maag die gewas as kos interpreteer. Hy vertel vir my brein dat ek reeds versadig is en as ek 'n normale porsie eet vreeslik ongemak sal ervaar. Nietemin was die stukkie brood en skelvis in witsous wat ek kon eet weer 'n nuwe ervaring.

Dr. Magiel Heyns het my kom ontslaan en laat weet dat hy en prof. van der Merwe saam besluit het dat die gewas deur 'n operasie verwyder moet word. Hy sal probeer om die operasie van bo-af met instrumente te doen, maar aangesien daar 'n risiko van bloeding is en hy nie sy hande op die probleemarea sal kan hê nie, sal hy my moet oopsny as ek begin bloei. Die gewas is baie bloedvatryk en daar is dus die moontlikheid van komplikasies. 'n Gedeelte van my maag sal ook verwyder moet word, maar hy sê 'n maag kan weer rek en is 'n baie vergewinsgesinde orgaan(weet ons dit nie :-) ) ...! Hy wil die volledige prosedure bespreek as LeRoy ook by is en hy het my huistoe gestuur om te rus en sagte "baba-kossies" te eet.

My beker loop oor:

  • Die sustertjie wat die laaste keer my bloedtelling kom neem het, het my so 'n dubbel-kyk gegee en gevra : "Is jy regtig in 1959 gebore? Sjoe, jy is goed opgepas!" (Ja-ja, ek weet wat veral julle mans gaan dink: "Steeds so ydel!", maar wat kan ek sê? Ek is 'n vrou! :-))

  • My liefie kom haal my en ek gaan huistoe!

  • Bad weer in my eie bad, lê weer in my eie bed!

  • Ek ontvang my EERSTE tuisbesoek van "ou" vriendin Melanié Malan wat dadelik gereageer het, met "Ek sien jou nou-nou!" (ten spyte van 'n baie besige program met haar eie seunskind wat pas begin krieket speel het). Sy bring ook vir my 'n pragtige bos blomme saam - ook 'n eerste. Dankie Mel, jy was 'n stukkie sonskyn! Boonop bied sy aan dat sy enige tyd met enigeits sal kom help as ek haar nodig het.

  • Liewe Monica Hammes (my "baas") is kort op haar hakke - ook met blomme. Aangesien die tydperk in die hospitaal en veral in Intensief 'n vreeslike eensame tyd vir my was, is dit onmoontlik om in woorde te beskryf hoe genesend dit is om haar te kan sien en te kan gesels oor alles wat gebeur het. Monica is my mentor by die werk en ek het ongelooflik respek vir haar. Sy los die bekommernis oor die werk op soos 'n Disprin en verbaas my deur te sê dat daar tog 'n paar van my kollegas is wat regtig vir my omgee en goeie wense stuur (dankie julle!). Sy was ongelooflik ondersteunened terwyl ek in die hospitaal was en LeRoy het my vertel hoe baie sy gebel en navraag gedoen het. Dankie vir jou Monica, dit beteken so baie vir my.

  • Goeie vriende Barend en Elrian Terblanche het ook dadelik oorgery na werk en kom kuier. Barend is een van die mees positiewe mense wat ek ken en het my mooi tuin beplan en uitgelê. Nou gaan ek baie tyd hê om dit te geniet!

  • My sus Madelein maak spesiaal vir my 'n pot hoendersop. Ek moes lag toe ek LeRoy en Eugene se gesigte sien toe sy kwaai sê : "Dié is NIE vir julle nie - sorg vir julself!" My arme mansmense - hulle gaan nog hongerly en swaarkry! :-)

  • Dankie Heer vir elke oproepie, elke sms van goeie vriende en selfs mense wat nou vriende gaan word. Dit troos my en al weet ek U dra my nou, is elke mens wat nou vir my moeite doen 'n Engel op my pad.

En eers nog vir oulaas 'n mooi storietjie! Terwyl ek vir LeRoy gewag het om huistoe te gaan, stap daar 'n suster by my kamer in. Haar glimlag is so breed dat net haar ore dit keer. Sy groet my uitbundig en met oorgawe: "Hallo Mrs Olivier!" asof ek en sy boesemvriende is. Ek krap vervaard in my geheue rond om te onthou waar ek die gesiggie kon gesien het, maar geen klokkies lui nie. Ek groet egter ook vriendelik terug en voeg darem 'n glimlaggie by. Sy vertel toe sommer self: sy was die suster wat by Ongevalle aan diens was toe hulle my Maandag ingestoot het. Ek het natuurlik weer flou geword en kan die stemmetjie in my ore onthou wat my aanvanklik my naam gevra het, maar ek kon nie haar gesig onthou nie. Sy sê dat sy my naam op die saallys gesien het en by haarself gewonder het of dit die Mrs Olivier kon wees wat sy ingeboek het. Sy het spesiaal gestap om te kom kyk. Sy spreek toe haar vreugde uit dat ek nou hier sit en (vir haar) so goed lyk! Is dit nie kosbaar nie? Watter wonderlike diens lewer verpleegpersoneel nie - ek het werklik die grootste waardering vir hierdie dienende Martas!

Kan jy help? Weet jy van 'n goeie mediese webwerf? Ek kon vinnig bietjie inligting opspoor, maar sal enige goeie webverwysings/artikels van my slim kollegas waardeer!

No comments:

Post a Comment