Saturday, January 31, 2009

Uitslae van al die toetse Woensdag 28/01/09

Die dag het baie anders begin, want twee insidente kort na mekaar het my laat skater - al was dit in my binneste!

Vroegoggend toe ek die eerste keer my oë oopmaak staan een van die verpleegsters (nie myne nie) by my bed se voetenent en gee my 'n kompliment van alle dinge - en dit in IE van alle plekke! Sy sê: "Vroutjie, toe jy so met jou toe oë lê lyk jy 20, toe jy hulle nou oopmaak lyk jy 30. Mens sou nooit sê jy is 49 nie!" Ten spyte van my omstandighede of miskien juis as gevolg van my omstandighede was dit vir my baie snaaks en ek het gelag, want as ek so vinnig verouder as my oë oopgaan, moet ek hulle dalk minder oopmaak! :-)

'n Vrolike dr. Heyns het kom groet - hy was op pad Ellisras toe. Ek vra vir Brigitte (my verpleegster) water en begin myself te was en bietjie te grimeer. En toe ervaar ek my groot verleentheid van die dag, maar daar is tog ook groot humor daarin: prof Schalk van der Merwe wat my vorige dag se uitslae met my kom bespreek, betrap my op die ellendige bedpan! Probeer dit nou met grasie hanteer! Ai tog - die gordyne was dan toegetrek...hoekom loer hy in?

Maar ek het met 'n "straight face" probeer luister wat hy sê en dit was dat ek later vir die tweede skandering sou gaan en dat dr. Heyns uiteindelik sou besluit watter strategie van behandeling gevolg sou word.

Weereens moes ek Jodium begin drink, maar hierdie keer wou hulle dit vinnig sien terwyl dit in my bo-maag sigbaar is. Die oulike hoofsuster van IE het my persoonlik 10:00 opgestoot - ek het soos 'n ware VIP gevoel, want alles moes nou vinnig gebeur. Nou het ek die prosedure geken en my oorgegee aan die stem wat sê: "Breathe in...breathe out", "Breathe in...hold...breathe out". Toe nog 'n onaangename ervarinkie - daar word 'n sakkie bruissout (soos Eno's) droog in my mond gegooi. Ek kon 'n slukkie water neem, maar mag glad nie die winde wat vorm opbreek nie. Sulke tye bid ek net aanmekaar: "Here help, Here help..." en ek probeer die perfekte pasiënt wees, want ek besef hoe belangrik dit is dat dit die eerste keer korrek gedoen word. Dank Vader...ek het dit reggekry en ek kon teruggaan saal toe. Die einde was in sig!

Die verrassing van die dag was dat LeRoy buite die deur gestaan het toe ek uitgestoot word! Teen daardie stadium het ek begin ruk van koue (dalk ook skok en spanning), maar dit was wonderlik om nie alleen te wees nie. Hy stap saam terug IE toe en hy kuier teen alle reëls verder en langer by my in IE totdat ek oorgeplaas word na die gewone saal toe.

LeRoy vertel dat my pa glad nie meer eet nie en vandag oorgeplaas is Vergenoeg toe. Hy moes die besluit neem of hulle 'n pyp in sy maag moes sit wat hom kon voed en het daarteen besluit. Dit is vir my ontstellend, maar ek voel magteloos. Ek kan nou niks meer vir my pa doen nie en ek moet dit so aanvaar....

In saal D5 lê 'n 18-jarige jong vrou, Grace wat pas 'n gewas uit haar bors laat verwyder het. Oorkant my lê Susan Semenya wat erg verbrand het toe warm was in haar gesig en arms ontplof het. Haar regterarm is so erg verbrand dat sy narkose moet kry as hulle die wond reinig. In sulke tye sê ek net dankie liewe Heer, ek ken nie daardie pyn nie - ek is nog geseënd. En ek tel my seëninge want ek probeer fokus op elke klein plesiertjie wat ons almal so as vanselfsprekend ervaar:
  • my eerste warm bad - in privaatheid (weliswaar nog met my binne-aarse sakkie en met slegs een arm se gebruik);
  • die vreugde van privaatheid in die badkamer;
  • Eugene en Martli se kuier en hulle bring my SELFOON! Ek het kontak met die buitewêreld en waarder die sms'e en boodskappies van bekommerde vriendinne en familie. Ek moet spesiaal vermelding maak van my dierbare vriendin in die Kaap, Elise Steyn, liefste Edith Myburgh en tannie Stella;
  • Maureen du Pisanie kom verras my met 'n vinnige inloer - wat 'n lekkerte en sy is iemand wat so goed kan verstaan waardeur ek nou gaan;
  • my eerste kossies in 3 dae - die jellie het my maag ook laat tril, maar daardie warm, helder, sout soppie was hemels!
  • Susan Semenya het die aand toe ek vir die eerste keer 2 klein kwart broodjies honger verslind, opgestaan en een van haar broodjies vir my kom gee..."Because I know how hungry you are!" Ek het dit so waardeer! Met aandete het hulle hoendersnitzel, kapokaartappels en groente gekry en Grace wou dit glad nie eet nie. Ek het hulle toe geterg en vertel hoe bevoorreg hulle is, want my spyskaart van jellie en sout sopwater was toe vir die tweede keer die dag minder aanloklik.

Daar was egter ook die finale uitslae van al die toetse...Prof Schalk van der Merwe het die aand met besoektyd met my en LeRoy gepraat terwyl my sus en haar seun buite moes wag. Hy het vir ons albei gesê dat hy diep bekommerd was en dat dit 'n ernstie situasie is. Vir die eerste keer het hy die K-woord gesuggereer aangesien hy twee situasies geskets het: "Ons kan of dadelik met chemo begin sodat die gewas kan krimp of ons kan dit verwyder - die besluit berus egter by die sjirurg, dr. Heyns." Hy het verduidelik dat die maag uit 4 lae bestaan - 'n binne-mukuslaag, twee spierlae en 'n dik buitewand. My gewas groei in die spierlaag en het 'n naam gekry: GIST - Gastrointestinal stromal tumor. Hy het voorgestel dat ek navorsing daaroor doen en soveel moontlik daaroor uitvind. Boonop is hulle steeds bekommerd oor die abnormaliteite wat in my lewer opgespoor is. Op die stadium kan dit nie defnitief positief verbind word aan die gewas nie, maar die moontlikheid kan ook nie uitgesluit word nie. Ek het prof. van der Merwe ongelooflik professioneel ervaar en hy praat met soveel gesag dat ek geen oomblik sy oordeel in twyfel trek nie. Sy afskeidswoorde aan my was dat daar 'n moeilike tyd voorlê, maar dat hy hoop het. Hy sê hy is baie reguit en sou my ook vertel het as daar geen hoop was nie.

Nadat LeRoy-hulle weg is, het ek vir die Here gevra om my te wys hoe om hierdie beker te ledig. Ek het ook gedink aan my pa wat self net gelê het, nie meer kon praat en eet nie. Ek was emosioneel op 'n plek wat ek self nie ken nie...

No comments:

Post a Comment