Saturday, January 31, 2009

Alleen en kwaai! Dinsdag 27/01/09

Die oggend het vir my soos 'n ewigheid gevoel en ek het baie ongeduldig begin raak. In die Intensiewe Eenheid (IE) gee die nagpersoneel weer oor aan die dagpersoneel en jou "situasie" word bespreek. Hier en daar kon ek grepe hoor "Mevrou Olivier...gister...bloeding....dokter is baie bekommerd oor haar..." Weer daardie B-woord. Almal is so bekommerd, maar ek is die een wat alleen hier lê, ek is die een wat heeltemal afgesny is, dis van my wat julle praat - hallo!

Die isolasie van IE was vir my vreeslik. Ons leef in 'n era van "connectivity" - ons het telefone, selfone, Internet, e-pos...en nou wanneer die dokters aanhoudend vir my sê hoe bekommerd hulle is, en die susters vir mekaar fluister hoe bekommerd die dokters is en ek begin nou al ook BEKOMMERD te word (werklikwaar - ek wonder hoekom?!!!), is ek totaal afgesny van almal wat vir my lief en dierbaar is en ek is deel van 'n hospitaalroetine wat baie wag insluit.

Die verpleegster kom om my te bedwas en ek dring daarop aan om self nog die nodigste te doen. Ek vra my nagtassie (hemel, maar LeRoy het die eienaardigste goed gepak! Weet die man na 12 jaar nog steeds niks van my roetine nie? Daar is 3 gesigreinigers, maar nie 'n waslap, lyfroom, parfuum, maskara of eers 'n spieël nie). Ek is bedremmeld, maar poog om bietjie vogroom, onderlaag en oogskadu aan te sit en sommer net my kuif te was.

En ek wag...

En ek wag...

En ek wag...

Maar Kwaaitjie Kabouter kry naderhand die oorhand en ek DRUK DIE KNOPPIE en die keer vra ek NIE vir die bedpan NIE! My verpleegster kom aangestap en ek vra haar wanneer ek dan vir die volgende gastroskopie gaan? Wanneer is besoektyd? Wanneer hoor ek van my man? Wanneer hoor ek weer van die dokters? Sy gaan roep die hoofsuster en met elke bietjie krag in my vertel ek haar presies hoe ek nou voel. Ek moet erken dat sy dierbaar was (hulle is eintlik dierbaar met al die pasiënte daar). Hulle word sekerlik IE personeel nadat hulle 'n Wees-Geduldig-Toets-met-Moeilike-Pasiënte slaag! Sy het uit haar eie aangebied om LeRoy te bel op haar eie selfoon en vir my gegee.

Ek kon toe eers vir hom vertel wat die hele nag gebeur het en het hom gevra om die dokter te vra wat de duiwel aangaan! (Maar natuurlik is alles die hele aand gemonitor). Dr. Heyns het kort daarna ingeloer en my verseker dat hy net so min soos ek geslaap het. Elkeen van my onaangename sessies is deur die nag aan hom gekommunikeer. Ek het rustiger geword...en weer die sekonde-wyser stukkend gekyk tussen klein poses van wegdommel tussen al die biepe van almal se masjiene deur.

Uiteindelik was dit 11:30 - besoektyd en LeRoy en ds. Anton het saam ingestap. Dit was wonderlik om hulle beide te sien en ek het gevoel soos 'n drenkeling wat agtergelaat word in die see toe hulle na 'n skrale 30 minute weer weg is.

En toe begin die wag weer om teater toe te gaan vir die tweede gastroskopie. 15:00 word ek ingestoot as die laaste pasiënt in 'n ry vir die teater. Ons beddens staan elkeen in sy eie gordynhokkie en ek kon hoor wat langsaan aangaan, maar ek kon net die verpleegpersoneel en gaste in die verbygaan sien. Ek hou heeltyd die deur dop, want ek het gevra dat hulle LeRoy bel omdat ek hom so graag daar wou hê. My medepasiënte het almal geliefdes wat by hulle sit en ek hoor hoe word daar vir hulle gebid. Elke keer as die deur oopgaan hoop ek dis LeRoy...en elke keer is dit nie...Soos wat die pasiënte een vir een ingaan, word ek nader gestoot en my ore is gespits vir my man se voetstappe, my oë op die deur as dit oopswaai, maar dis elke keer iemand anders.

Ek bly weer Psalm 11:7 herhaal: "Die Here is regverdig. Hy het die mense lief wat regverdig en opreg handel, en Hy sal by hulle wees". Toe hulle my uiteindelik instoot en hy steeds nie opgedaag het nie, was ek vreeslik teleurgesteld. Prof. van der Merwe vra na my man want hy wil die prosedure weer verduidelik, maar ek moet sê: "Hy is nie hier nie..." Prikkie in die arm en ek val weer in hierdie bodemlose put in.

Toe my oë weer oopgaan in IE, was my eerste woorde: "Where's my husband?"..., maar LeRoy is nie daar nie. Die dag en sy eise het toe vir my net te veel geword en teen die tyd dat LeRoy, Eugene en Martli besoektyd inwals met glimlaggies en vrolike "Hallo-hallo's!" het ek orkaan Katrina kompetisie gegee! Ek het aangedring om Eugene of ander goeie vriende se selnommers te kry (ek kon niemand se selnommer onthou nie!), maar LeRoy weier, want hy sê hy sal daar wees vir my. Vriend Bossie wat dapper en stapper IE toe gekom het om my met 'n Bybelvers te troos, was ietwat uit die veld geslaan.

Laat ek darem net ter verduideliking van my man die volgende noem: hy het alleen die laaste reëlings moes tref vir my pa se oorskuif na die nuwe ouetehuis se verswakte eenheid wat die volgende dag sou plaasvind. Teen daardie tyd kon my pa nie meer praat nie en moes die verpleegster wat ons aangestel het alles vir hom doen. Tussendeur moes hy sy werk ook nog baasraak, om van al die oproepe van vriende en familie nie eers te praat nie. A.g.v. my isolasie het ek dit natuurlik nie geweet nie...

Ter verduideling van my reaksie wil ek ook noem dat ek en LeRoy besonder na aan mekaar is en een van die huwelikspare is wat alles saam doen. Ek is net so gewoond daaraan dat ons saam fietsry, motorfietsry, inkopies doen, stap, TV kyk, lê en lees.

Die uitslag van die gastroskopie was nie goed nie..."There was a raised lesion in the fundus. The lesion is very suggestive of a GIST on EUS. I would propose more extensive CT scan staging followed by explorative surgery and partial gastrectomy."

Hierdie dag het die realiteit dat ek alleen hierdie berg sal moet klim, my swaar getref. Ja, ek het my "onskuld" verloor...

Ek was egter wel baie dankbaar vir:


  • al die boodskappies van liefde en groete wat via LeRoy en Eugene mondelings oorgedra is;
  • die feit dat ek nie die pyn beleef het van die arme 20-jarige seun wat ernstige brandwonde opgedoen het toe die gassilinder van die yskas ontplof het nie...Hy het nog alleen in 'n kamer binne IE gelê en het gehuil van pyn. Ek het hom so verskriklik, verskriklik jammer gekry;
  • my verpleegster wat my weer so mooi kom was het en selfs die aand my hare in die bed gewas het! Beslis nog 'n eerste - maar vir my wat elke dag hare was, was dit 'n heerlikheid!

Die hoogtepunte van die dag:

  • my besoekers die oggend en die middag tydens besoektyd;
  • die 3 jong mans van Doxa Deo wat gevra het of hulle vir my kon bid. Hulle het eers kom vra wat makeer en toe elkeen 'n beurt geneem om my aan die Here op te dra. So dankie, kêrels - dit het SO baie vir my beteken!
  • laastens - my wonderlike bed! Ek was darem een keer die uitverkorene - my bed het 'n afstandbeheer-kontrole gehad en ek kon soos 'n wafferse "lady" lê en my kop/voete op of af beweeg...
  • ek was pootuit en het beter geslaap...

No comments:

Post a Comment