Saturday, January 31, 2009

Terapeutiese kuiers Vrydag 30/01/09

Ek voel gekoester in die liefde van my besoekers...Dit is vir my wonderlik vertroostend as vriende wat ek liefhet bel en dadelik vra: "Wanneer kan ons kom kuier?", en/of "Wat kan ek vir jou doen?"

Vandag is 'n pragtige bos blomme by my afgelewer (dankie Gerda!) en het twee baie spesiale paartjies vir my kom kuier.

Elsa en Roelf Coertze was 11:00 by my. Ons ken mekaar reeds sedert 1993. Ek en Elsa het saam gewerk by die destydse Onderwyskollege van Pretoria en het vir 9 jaar elke werksdag saam werk toe gery. In daardie motortjies van ons het ons mekaar se wel en wee geken en mekaar se geheime gedeel. Dis twee mense wat my onder baie ander omstandighede leer ken het (ek was toe geskei en Eugene was 8 jaar oud) en saam 'n paar sakke sout met my gedeel het. Roelf het my en LeRoy getrou, Elsa was die eerste persoon wat na ons huis gejaag het toe my ma in haar slaap een middag by ons oorlede is en Roelf het haar begrawe.

Die wonderlikheid van sulke lang vriendskappe, is dat jy net jouself kan wees en so min hoef te verduidelik. Geen maskers is nodig nie - hulle ken my so goed, hulle weet so goed waar ek vandaan kom en hulle het my toegelaat om my gedagtes en gevoelens met hulle te deel. Dit was baie terapeuties om my siekte met hulle te bespreek en die hartseer oor my sterwende (?) pa met hulle te kan deel. Elsa het gesê dat sy maar altyd nog beskermend oor my voel, soos 'n "ousus", Roelf het belowe hy sal volgende keer kom kuier in die Intensiewe Eenheid en hulle het albei my hande kom vashou en vir my 'n gebed gedoen. Dit was 'n kosbare oomblik. Ek het moeg gevoel, maar was emosioneel lig toe hulle weg is. Elsa, dankie vir die smaaklike Woolworths happies - dit was die maklikste dingetjie om te gryp en te eet later die middag!

Vrydag was ook die geboorte van hierdie blog. Na ek 'n bietjie gerus het, en die woorde en emosies weer in my gemoed begin maal het, het ek besef dat dit die beste sou wees om my gevoelens te verwoord. Daar is so baie mense vir wie ek dankie wil sê en op hoogte wil hou en ek wil die lewe vir LeRoy makliker maak as ek in die hospitaal is. Soms is ek bekommerd oor al die persoonlike gebeure wat ek deel, maar ek soek 'n uitlaatklep vir my emosies wat bly woel en soos borrelende fonteinwater wil ontsnap. Ek geniet dit om my hart so uit te stort en te skryf en my gewone dagboek is vanjaar te klein vir alles wat gebeur! :-) Wens net ek kon dit nog vinniger doen en op datum kom!

Later die aand het Edith en Kobus Myburgh kom kuier. Ek en Kobus was saam in Laerskool Dr. Havenga in Witpoortjie en Edith se paaie het met myne gekruis in 1974, toe ons albei in standerd 7 was. Ek kan hulle met reg my oudste en beste vriende noem! Hierdie twee mense ken my so goed en al so lank, dat woorde soms nie nodig is nie - watter vreugde! Boonop sal enigeen wat hierdie twee mense ken vir jou vertel dat hulle albei oor die wysheid van Salomo beskik en Kobus beskik boonop oor die vermoë om my altyd te laat kraai van die lag. Sy humorsin is legendaries en die gemeente van Wierdapark is geseën met hierdie twee mense.

Hierdie kuier was my tweede terapie-sessie van die dag en Kobus het 'n onderwerp aangeroer wat niemand tot dusver wil opper nie...die dood. En soos altyd het hy die stukkies legkaarte met groot wysheid voor my kom neerlê:

  • Eerstens: ons almal het net vandag en vandag bly die eerste dag van die res van ons lewens. Ek lê op die oomblik siek my operasie en afwag met baie onsekerhede oor my toekoms, maar een van my vriende kan binne die volgende uur in 'n ongeluk sterf.
  • Tweedens, en ek wens julle kon Kobus se gesig sien toe hy my dit vra (ek het gelê soos ek lag): "Waar is Lasarus nou?" Al het Jesus Lasarus opgewek, is hy weer dood. Ons is geneig om te vergeet dat nie een van ons permanent hier op aarde gaan wees nie. Sommige van ons leef langer, word swakker en hulpbehoewend (soos my pa) en ander van ons sterf vroeg - vir ons altyd te vroeg (soos my ma wat op 66 oorlede is). Die dood is onlosmaaklik deel van die lewe en ons is geneig om dit te vergeet en te ontken.
  • Derdens mag ek voel soos wat ek voel (het julle gehoor LeRoy, Eugene... :-)) . Niemand beleef wat ek nou beleef nie, niemand kan my voorskryf hoe ek dit moet hanteer nie. So: as ek kwaad is...gun my dit (ek was nog net kwaad vir LeRoy omdat hy a.g.v. my pa se oorskuiwery nie by my kon wees tydens die tweede gastroskopie nie), as ek hartseer is...gun my dit, as ek vrolik voel...gun my dit, en as ek die dag te swak is om 'n vinger te roer...gun my dit. Laat ek nou asseblief net myself wees. Moenie een van die mense wees vir wie ek 'n masker moet opsit nie.
  • Laastens het Kobus die dood weer so mooi aan my verduidelik in sy terme. Terwyl ek en jy babas is in ons moeders se baarmoeder, is ons totaal en al gelukkig met ons omstandighede want ons het alles daar wat ons nodig het. Ons ken niks anders nie en sou vir ewig kies om daar te bly - sou ons die keuse hê. Die geboorteproses is vir alle babas traumaties, want dan word hulle losgeskeur uit hul veilige kokon en alles wat bekend is. Maar na die geboorteproses, word ons deel van hierdie wêreld en ons sou nooit weer wou kies om terug te gaan baarmoeder toe nie. So is dit ook met die dood....ons is nou so tevrede en gelukkig met wat ons op aarde ervaar, maar die heerlikheid wat op elke gelowige wag kan nie nou ingedink word nie!

Ons het heerlik grappies vertel en ek het dit geniet om weer uit my (seer) maag te lag! LeRoy vertel die een van die twee beeste wat vreeslik hard geslaan en aangejaag word slagpale toe. Die een draai toe sy kop na sy maat langs hom en sê: "Ou vriend, as hy so aangaan weet ek nie of ek en jy die slagpale lewendig gaan haal nie!"

Dit was 'n wonderlike dag en my twee, lang en intieme gesprekke met kosbare vriende was kos vir my siel. Hulle was instrumenteel om 'n klomp seer uit te pluis en te ontrafel. Hulle liefde het my toegewikkel in warmte en die gesprek en grappies oor die dood was bevrydend! Baie, baie dankie aan julle - my beker loop oor!

No comments:

Post a Comment